VADERS VAN KINDERS

In die verlede het vaders van minderjarige kinders dikwels uitgesluit gevoel deurdat daar deur die howe aan die moeders voorkeur gegee is wat kinders aanbetref en hulle dus meestal die beheer en toesig gekry het.

Die Howe het algaande, veral gedurende die 1990’s, meer begin oorleun na vaders, veral inaggenome die meer gelyke sosiale rolle wat mans en vrouens in die gemeenskap begin beklee het, asook inaggenome die feit dat meer vrouens aktief in die arbeidsmark geword het en soms broodwinners geword het.

Gedurende 1998 in die Van Pletzen saak, het die hof dit onomwonde gestel dat die aanname dat ‘n moeder noodwendig in ‘n beter posisie is om vir ‘n kind te sorg aan die verlede behoort en het bevind dat ‘n vader, afhangend van die omstandighede, dieselfde kapasiteit en vermoë het om kinders te versorg as ‘n moeder.

Die Childrens Act. 38 van 2005 bepaal onder andere soos volg ten aansien van

Die ouerlike regte en verpligtinge van getroude vaders:

Die biologiese vader het volle ouerlike regte en verpligtinge indien :

a) hy getroud is met die moeder van die minderjarige kind;

b) hy getroud was met die moeder van die minderjarige kind

– tydens konsepsie;

– tydens geboorte;

– op enige stadium tussen konsepsie en geboorte van die kind.

Die Wet het ‘n weerlegbare vermoede geskep dat die man wat getroud is met ‘n vrou ten tyde van die geboorte van ‘n kind, ook die biologiese pa van die kind is. Hierdie vermoede/afleiding kan weerlê word, inter alia by wyse van DNA toetse wat kan bewys dat die vader uitgesluit word as moontlike biologiese vader van die kind.

In sekere gevalle speel die vaders ‘n groter rol in die kinders se lewens as die moeders. Vroue is al hoe meer beroepsgerig, beklee hoë poste met lang werksure en in sulke gevalle is die vaders baie meer betrokke by die kinders se versorging as die moeders. Dit is goed dat hierdie rol van vaders nou met die Children’s Act baie meer in ag geneem word.

Die ouerlike regte en verpligtinge van ongetroude vaders:

Die biologiese vader van n kind kan volle regte en verpligtinge verwerf indien :

a)    Hy en die moeder ten tye van die kind se geboorte saamwoon in ‘n permanente lewensvennootskap (life partnership).

b)    Ongeag of hy saamwoon of saamgewoon het met moeder, is ‘n man die biologiese vader, of hy kan sê hy is die biologiese vader, indien:

(i)     Hy toestem om geidentifiseer te word as die vader of indien hy aansoek gedoen het dat die registrasie van die geboorte van die kind gewysig word sodat hy as vader aangeteken word en die moeder stem toe daartoe.

(ii)    Indien die moeder weier om toe te stem tot wysiging van die geboorteregister of weens ‘n verstandelike versteurdheid nie kan toestem nie of nie opgespoor kan word nie of oorlede is, kan die vader die hof nader om ‘n bevel te gee wat sy vaderskap van die kind bevestig.

(iii)   Hy bydra of in goeie trou bygedra het tot die kind se versorging vir ‘n redelike tyd.

(iv)   Hy bydra of bygedra het tot uitgawes in verband met die onderhoud van die kind.

Waar daar ‘n dispuut tussen die biologiese vader en moeder van die minderjarige kind bestaan, maak die Children’s Act voorsiening vir mediasie oor of die biologiese ongetroude pa voldoen aan die vereistes deur die Wet gestel, aldan nie. Dan word daar spesifieke kundiges aangestel om ondersoek te doen en dan aanbevelings te maak om die dispuut te besleg.

Ooreenkomste ten aansien van ouerlike regte en verantwoordelikhede

Die moeder of ‘n ander persoon wat ouerlike regte en verantwoordelikhede het ten aansien van van ‘n minderjarige kind, kan ‘n ooreenkoms aangaan wat voorsiening maak vir die verkryging van ouerlike regte en verantwoordelikhede met:

–  die biologiese pa wat nie kragtens die Wet of ‘n hofbevel regte en verantwoordelikhede verkry nie, of

–  ‘n persoon wat n belang het in die versorging, welstand en ontwikkeling van die kind, byvoorbeeld die oupa en ouma en/of ‘n ander familielid.

So ‘n ooreenkoms sal eers geldig wees as dit op skrif gestel en onderteken is deur die partye en getuies, en/of goedgekeur is deur die kantoor van die Gesinsadvokaat en dan ook geregistreer is deur die kantoor van die Gesinsadvokaat of ‘n bevel van die Hof gemaak is. Let wel dat voordat sodanige ooreenkoms goedgekeur word deur die Gesinsadvokaat of ‘n bevel van die Hof gemaak kan word, moet die betrokke instansie tevrede wees dat die bepalings van sodanige ooreenkoms inderdaad in die beste belang van die minderjarige kind is.

So ‘n ooreenkoms kan gewysig word of tersyde gestel word deur die Gesinsadvokaat of by wyse van ‘n aansoek wat deur enige van die partye tot die hof gerig moet word waarin redes en gronde aangevoer word op welke basis aansoek gedoen word om wysiging of tersydestelling van die ooreenkoms. Ook sodanige wysiging moet in die beste belang van die minderjarige kind wees.

Dit is belangrik dat ouers wat in enige dispuut met mekaar betrokke raak aangaande hul minderjarige kinders, hetsy deur egskeiding of andersins, moet onthou dat die regte en beste belange van die kinders vooropgestel word. Die Children’s Act het baie bygedra om meer duidelikheid te gee oor welke aspekte in ag geneem moet word om die beste belange van minderjarige kinders te bepaal.

Andrew Burden

Senior Partner